Gegroet kampers en kampinne
Mensig, Kampkoors is reg om homself voor die Kampkoorsdirektoraat te daag vir disipplinêre prosedures en so, oor ons laas gekamp het toe mense nog onsteld was omdat Shanana op TV gaan wees.
Ek dink my tent voel al so verwaarloos dat hy koulik gaan omdraai as ek naderstap en dat ek nooit die deur gaan kry nie.
En ek kan al sien hoe knip-knip my gasbottel se oë as hy weer gewoond moet raak aan daglig.
Verder het ek so lanklaas die laer ogeslaan, ek's half bang ek hang myself in die proses.
So dis tyd. En nee, eks nie lus vir 'n afgeknypte naweekdingetjie nie, sommer 'n lekker lange.
Ek blameer Zigi. Dit vat 'n sterk wil om die Wegsleep deur te lees en nie kampkoors te ontwikkel nie.
Ek’s ook nie net lus vir kamp nie - na die lesery is ek net so lus vir 'n kamptreiler en 'n karavaan en 'n kampeerwa. En kampstortgedoentes, en kampkos. En die wildtuin, en Victoriabaai en die tuinroete.
Ek en Vrind Jan het al lankal 'n wilde plan om eendag, as die omstandighede dit toelaat (tans onwerklik en ondenkbaar, maar mens kan droom) om in die pad te voeter, suid, volgens sekere beginsels.
1. Geen teerpad van 'n dag oud nie (as jy dit kan help)
2. Niks verder as 300 km per dag nie
3. Geen dorpie mag gemis word nie
4. Toer so voort tot mens by die see uitkom
5. Hou nabetragting by die see
6. Draai regs
7. Volg stappe 1 tot 4.
8. Draai noord
9. Volg stappe 1 tot 3 tot mens 'n grens slaan
10. Draai wes
11. Stop as jy weer jou huis sien
Kan lekker werk as 'n kamptoer. Gaan net vrek lank vat en ons het nie daai klas sponsors nie. Maar dis droom daai.
Droom is darem lekker.
By die plaas Zoete Inval, net buite Roossenekal, moet jy nie verbyry nie. Ons het amper.
Ons het hierdie keer nogal gesukkel, voel ek, om die weeksdinge af te skud.
Selfs toe ons laatmiddag in die Dullstroom hotel 'n draught drink, het dit nie gevoel of ons weg is nie.
Die pad tussen Dullstroom en Roossenekal, oor Tonteldoos, was pragtig, dink ek, maar die afskakel was nog nie daar om die oë te verander nie.
Dullstroom. Mens wag net vir Woolworths om iets oop te maak daar. Dit sal die kommersiële prentjie vervolmaak.
Ek wil ook vra: is daar mense wat posief reageer op enorme advertensies wat jou belowe daar kom 'n golflandgoed (of 'n paar) om jou platteland vista te vul? Maak dit jou bly? Is dit die deurslaggewende faktor wat jou platteland toe gaan laat trek? 'n Golf estate?
Ek wil ook vra of die pad tussen Gauteng en Dullstroom so sleg is dat jy dit net 'n 'n Discovery kan maak? Daar’s baaaie Discovery's in Dullstroom.
Vrind Jan reken die volgende stap vir Dullstroom is 'n Builder’s Warehouse. Daar’s klaar 'n binneversieringsplek. 'n Grote. Ook 'n refleksoloog of twee.
Daar’s talle splinternuwe geboue (almal kleinhandelpersele) wat dalk probeer om in te pas by die plaaslike en historiese boustyle.
Die waarheid is dat niemand rerig weet wat dit eintlik beteken nie en enigiets wat lyk of dit dalk 'n ouerige boustyl is, word aangepak.
En ja, daar is Tuscan. Aplenty.
Ek geniet dit altyd om deur Dullstroom te ry, daar’s iets aan die plek, as jy verby die Discovery en Prado en X5 en ML konvooie kan kyk, verby die troppe Harley Davidsons (skrywersvriend Vince Pienaar noem hulle die Hadeda's van die motorfietswêreld), verby die landgoedontwikkelings en hulle sierskrif-advertensieborde, verby die talle embarrassing pogings om Skotland se hooglande te herroep, verby die forel-trinkets industrie. As jy nog kan, ja dan is daar iets.
Maar sit so rukkie in die Dullstroom hotel (een van die min plekke wat nog voel of dit nie te hard probeer nie) en jy besef iets vir die eerste keer in jou lewe: jy moet hier uit.
Tonteldoos is 'n niks plekkie. My ma se ma is daar gebore en ek dink nie dit plek was noodwendig toe kleiner as wat dit nou is nie.
Roossenekal, so het mens gehoop, sou die eerste tekens begin toon van lekker raak.
Daar’s iets, maar die ding wat jou jaag, kry nie daar rus nie, vir een of ander rede. Ek sal wel teruggaan, hopelik binnekort.
Nou's dit al heel laat, die son wil aanstaltes maak en Lydenburg is nog so 70 km ver.
Net buite Roossenekal, so entjie na die afdraai na Mapog se grotte, nes jy die heuwels begin uitklim, daar lê Zoete Inval teen die hange van 'n heuwel.
'n Bordjie sê La Ronelle gastehuis, maar mens is nie lus vir mense nie, wil op jou eie wees in 'n pub iewers waar jy die locals net kan observeer.
Tog draai ons om en ry die styl paadjie af na die mooi huis toe. (Nee, jy’t steeds nie 'n Discovery nodig nie)
Klop aan die deur, 'n mooi deur. Daars 'n woeligheid binne terwyl mens op die stoep staan en die son sien ondergaan oor die ver vlaktes.
Tannie Irene maak oop. Oom Jan groet vriendelik. ons is welkom om te oornag.
Kuier kuier kuier. Gesels oor alles, oor die lewe, die mooi van dit als, die snaaks, die hartseer, die hoop, die Here, die liefde, die geskiedenis, die wetenskap, die Vrye Weekblad, houtwerk (oom Jan is 'n meesterlike skrynwerker), oor hartoperasies, oor verlies, oor kinders en geliefdes verloor, oor ongelukke, oor honde, oor die mynwese (groot industrie in hierdie geweste), oor chemie, Mapog en Mampuru, boereverneukery.
Rus en vrede en liefde. En hoop.
Amen.
Hallo en al daai dinge.
So wat maak jy en julle die naweek?
Die uwe gaan Machadodorp toe. Dis ooste in, verby Dullstroom en oppad Nelspruit toe, as jy nie weet waarvan ek praat nie. Dis 'n klein plekkie, en as ek dit moet opsom sal ek sê: Paul Krugerig.
Die groot vraag is nie of ek 'n forel gaan intrek nie, eerder of ek selfs gaan probeer.Sterk twyfel is die heersende opinie.
So, dis wat ek gaan maak, want mens is so besig jy kom nie eers by dink uit nie. Nie dink soos in planne beraam nie, want dit is mens se werk. Eerder dink soos in betrag en wonder en onthou. Dis lekker dink daai.
Vraag is: wat maak diesulkes wat nie saam sountoe gaan nie?
Hier’s 'n paar voorstelle:
1. Hou op ginnegaap en vind uit waar DKW en Klopjag en Piet Botha en Brixton Moord en Roof speel en maak dat jy daar uitkom.
2. Dan ry jy Maropeng in die Muldersdrift-area toe en gaan verstaan van die antropologie van die gebied en van Gauteng in geheel. Toe-toe. En moenie die Wondergrotte mis nie, mens wil nie so stupit wees nie.
3. As jy 'n Kapeling is, vind jy uit wanneer Delta Blue in Durbanville opereer en as daar iets is, dan maak jy 'n plan.
4. Jy kry 'n rooi kruisie en detensie as jy enigsins Saterdag in 'n shopping mall tyd spandeer. Wats fout met jou?? Besef jy nie die lewe flits voort en dat jou eie tyd precious is nie? Hê?
5. As jy verpligtinge het rakende die skoolvakansie, i.e. kinders, kry jou span by Gold Reef City. Sit af die TV, seblief tog.
6. En dan maak jy seker, en hier’s nie plek vir verskonings en storietjies nie, dat jy jou volgende kamp reël.
Kampkoors het klaar gepraat.
Hallo mense en hoe gaan dit en groete vir almal.
Ek het kennis geneem van die BeSnoekering, maar dit spyt my papnat dat ek tans ander verpligtinge het. Ek is egter vrek lus vir snoek en om die clan weer te sien, sal maar vir Dana probeer stuur om in te staan :-D
Kampkoors Produksies werk tans aan die plot vir die vervolg op die huidige Kampkoors Wildbesigtigingstoere reeks.
Dis harde werk om so stupid te wees, so ons is baie besig. Ons is ook geensins negatief ingestel teenoor enigiemand met kontakte in die televisiebedryf nie. Behalwe as jou naam dalk Snuki is, maar ag wat, hy’s ok orraait as hy mens kan help met ietsie.
Verder was daar gewaarwording. Nou ja goed, ons het almal ons lotjie wat die Kampkoors leserskorps insluit, 'n liefde vir die pad.
Daarom vind ons almal inspirasie in die mense wat op hom leef, mense soos Dana en Toast, die heer Bakkes, Kingsley Holgate, Bill Bryson.
Ek’t onlangs Tom Wolfe ontdek deur 'n dierbare vrind en Ewan McGregor se boek is 'n reus. Dis mense na wie jy kan luister omdat hulle die reis verspersoonlik en direk kontak het met die dinge wat vir ons die lewe die moeite werd maak; waarmee ons siele identifiseer. Of hoe?
Die hele Weg redaksie is begaafd om dit te doen, reisigers almal. Elkeen verstaan hoe die pad bydra tot jou belewenis van daar waar hy jou aflaai, of dit nou avontuur, eetplek, geheim, gevaar, ontwaking, rus, antwoorde, ontvlugting, inspirasie of 'n kampstaanplek is.
De laast ene van julle weet waarvan ek praat, want ons is almal padmense.
As voorbeeld, en jammer as ek uitsonder: Uncle Mac wat so mooi verstaan van die hart se bevlieging om iewers anders klopplek te gaan soek, wat dan dieper verstaan waaroor dit eintlik gaan, wat kan sien dat die spesiale ou ding van elke pad, die vurk, die plek is waar die antwoorde lê. Daar lê jou besluit om te doen of nie. En dankie, Uncle, dis nie op dowe ore nie.
Die gewaarwording dan. Ons mis 'n lekker groepie mense se insette in hierdie ding.
Die Kampkoorsdirektoraat is alombekend as instansie wat graag die musiekbedryf ondersteun, en veral 'n sagte plek het vir die talentvolle, swoegtende, reisende, "genuine" musiekpleegers, ouens en vrouens wat rêrig musieke kan maak en woorde en wysies kan skryf wat spreek tot ons en ons uitkyk op die lewe, en definitief ook die pad.
Gepraat van alombekend, daar’s dalk selfs sprake dat Kampkoors in die VN bekend is, maar wie sal weet, hulle antwoord nooit ons fondsinsamelingsbriefies nie. Vrind Jan dring aan dat ons in Engels moet probeer en kyk of dit werk.)
Dus, synde ons almal, vermoed ek, omtrent op dieselle golflengte opereer, het Kampkoors se Kunste en Vermaak Subkommittee dit goed gedink om nou en dan, ter afwisselings der blog, te gaan padgeselsies soek by die musikante van die land.
Ons hoop dit dra die goedkeuring weg van die tienduisende dawerende Kampkoors ondersteuners.
Intussen het ons klaar ons visier ingestel en die roer ge-olie.
Ons gaan begin met Klopjag (as ons hulle kan opspoor of omkoop), 'n langpad musiekgeselskap wat jou sal laat verlang na jou jou studentedae en daai anner mens van lank terug in jou verlede met hulle roadtrip-musiek.
En ja, ons gaan praat oor kamp ook, want ons is Kampkoors, after all. (As iemand weet wat dit in Duits of Switsers is: Vrind Jan sê dit kan dalk vrugte afwerp in Geneve).
Die bos is 'n gevaarlike plek as jy nie weet waarvoor om te kyk nie. Diesulkes wat nie ag slaan op die waarkuwingstekens nie word vinnig onderhewig aan die wet van die natuur, te wete: "Jy moes die terms en conditions gelees het, Kampkoors Toere is ge-indemnif."
Dis dan die lot van die oningeligtes om op 'n Kampkoors Toer te beland. Ter syde is dit ook die rede hoekom daar afslag gegee word aan mense wat sukkel met disleksie, (afslag dan met drie f 's). Vrek moeilik om die vorms te lees.
Mense gaan op troktoertjies deur die Wilde Krugertuin in die hoop om diere te gewaar en dinge te sien wat hulle andersins sou mis. Daar’s after all mense in uniforms, wat een is met die bos, om die toer te lei.
"Stop! Olifant!," skree iemand uit die agterste gestoeltes. Die Kampkoors toerleierskorps ruk albei die oë links en sien niks.
"Stop!" Ruk die oge nou regs en daar staan Ta. Lewensgroot, skuins voor regs, omtrent twee meter van die trokkie af agter 'n dunnerige boompie.
Dis 'n groot meneer. Die grootste bul in die wildtuin, hoor mens later die feite by die Kruger veldwagterskorps, sonder ophou. Die! En grootste!. Tot vervelens toe.
Amper so groot soos die klip reg voor in die pad wat mens toe miskyk omdat jy die olifant moes probeer raak kyk. Ten verdediging, die olifant was in die skaduwee. Wel meestal.
In elke geval, regte boskenners kyk uit vir verkleurmannetjies, nie flippen olifante nie.
Die briektrap kom net te laat. Die linkervoorwiel tref die klip met gelatenheid en groot spoed. Haastig sien, daar’s baie koffie al gedrink vemôre en die blaas kerm vir 'n afsaalplekkie.
Sierlik styg die groen trokkie die lug in. In stadige aksie. Verbasing pryk in almal se oë, insluitend die olifant s'n, wat skielik elke toeris reguit in die oge kan kyk sonder om sy kop te sak.
Op die apeks van die trokkie se sierlike sprong moet hy selfs opkyk en so word Kampkoors die eerste groep mense om 'n olifant van bo af te bekyk sonder 'n vliegtuig en verdowingsgeweer-permitte.
Alle goeie dinge kom egter tot 'n einde en tyd versnel met die afkomslag. Die linkervoorvering was ook 'n goeie ding wat toe so tot 'n einde kom. Stof en spaanderende grootste olifant en die wiele staan so.
Die voorste ampsgestoeltes, daar waar die onverskrokke toerleiers diens doen en vanwaar bestuursaangelenthede bedryf word, gee ook mee onder die impak.
Swets en kruietaal is nie goeie leesstof nie. Dus sluit ons weer aan 'n rukkie later waar Kampkoors Toere se veldrit voortgaan.
Met aanpassings in die toerplan, want die wiele kan nou net twee rigtings hanteer: reguit vorentoe en links. Die bestuurstyl word ook aangepas.
Vrind Jan staan maar regop en klou vas en skreeu aanwysings. Onverskrokke toerleier sit op 'n laerige Cadac-koelboks en bestuur met hande omhoog, onsiende.
Na 'n myle en myle van niks sien nie (oftewel, geen van die gaste waag dit om aandag te vestig op enigiets wat hulle gesien het nie) stop die trokkie spoegtend en stowwerig by 'n T-aansluiting.
Regs is die pad terug kamp toe. Links is 'n nou paadjie teen 'n stywe heuwel op. Bewaak deur 'n 'n bordjie wat vertel: Geen Toegang, No Entry, Aikona-ngena-hierso.
Guests Only, Alleenlik Gaste, Net-iMakulubaas, annerwise YeVoertsek.
Moeilike geval.
Links draai is meganies gesproke die enigste opsie, en so gemaak, met die hoop dat mens later iewers weer 'n linkserige omdraaiplek kan kry.
Omdraaiplek is egter eers te vinde in die parkeer area van 'n veertien-ster Private Lodge.
Ongelukkig had die paadjie nou en dan effens regs probeer swenk teen die heuwel op en dis met skrale millimeters wat die trokkie dit om sulke esse maak sonder om wesenliks regs te kan swenk.
Gevolglik is blaas-fortitude verminder en dring almal aan op 'n langerige biologiese breek, veertien-ster kyke van die Lodge staff af of te not.
Die toerleierskap is self aangedaan hieroor en swenk vinnig en behendig die trokkie in 'n oop parkeerterrein in (links).
Cadac-koelbokse is wonderlike goed. Maar hulle sit nie rerig vreeslik gemaklik nie.
'n Ander belangrike verskil tussen dit en voertuigsitplekke is dat Cadac-koelbokse nie aan die vloer vasgeskroef is nie.
Genoemde behendige swenk later is die toerleier dus besig om deur die lug te trek saam met die blou boks, wat die trokkie sonder bestuur laat.
Vrind Jan skree verskeie dinge, maar heelaas, die voertuig reageer net op direkte fisiele insette, wat nou buite die kwessie is met 'n bestuurder wat tans besig is om die ontvangslokaal met spoed binne te rol en staff en gaste en houtkameelperde te laat spat soos ten-pins.
Kordaat gryp Vrind Jan die stuurwiel vas. En val terstond om vanweë die draaiende momentum.
Die stuurwiel is nou proper op sy lock, met Vrind Jan wat onder aan hang om nie ook uit te val nie. Sy sitvlak is egter 'n verlenging van die noodlot en vind net een plek, die versnellerpedaal.
Niemand kan rêrig help met 'n impromptu heldedaad nie. Dis net van vashou. Die naaste wat ons het aan Bruce Willis tipe optrede was toe Vrind Jan laas iets geskree het wat geklink het soos... uhm... toemaar wat.
In elke geval is dit moeilik om te sien wat aangaan deur die stofwolk wat die vinnig sirkelende trokkie opskop.
Gelukkig raak diesel, soos meeste dinge, ook op, al vat dit soms ure. Later hoor mens die Lodge het besuit die beste ding om te doen met die meter diep kolkgat in hulle tuin area is om nog 'n swembad te bou.
Laatmiddag. So te sê terug by die basiskamp, Satara.
Reg langs die hek idle mens bietjie besluitloos, want dit verg regs draai om in te draai. Toue karre, hekwagte, toeriste wat wag op hulle nagrittrokke, almal kyk verdwaas hoe die trokkie links die veld in draai, eers 270 grade later reguit maak en dit by die hek inmaak met twee mense in verbande wat op die vloer sit en bestuur.
Niemand sê 'n woord nie, gedagtig aan wat kan gebeur as mens nou jou mond waag oopmaak so met die draaiery.
Uitklim is stadig en deurnekaar, en almal wat dit uit maak, gee een tree vorentoe waarna hulle beheerloos in bome en mure vas en in swembaddens, restaurante en curio-winkeltjies insteier.
Vrind Jan praat eerste:
"Ek sit maar, dis amper tyd vir die nagrit..."
Waar was ons?
O ja, nêrens rerig nie, alhoewel dit gevoel het asof mens in die Suidpool weergawe van Warskou in 1965 woonagtig was die afgelope twee dae.
Ja, vrek koud, gebrekkige watertoevoer en kragonderbrekingtjies wat so met die oggend se opstaan saamkom. Heerlik en fantasties pret en groot dank vir die afwisseling aan Ekhuruleni munisimaliteit.
Soos alles in hierdie lewe het dit my laat dink:
Wat van trek? Eks 'n boorling van die Oos-Rand en ek’s nie seker hoe en of dit mens rerig sterk beïnvloed nie (objektiewe buitestaanders, laat hoor van julle), maar ek’t nou skielik, vir die eerste keer rerig, lus om te waai. Darem al my innings ingesit hierso, reken ekke.
Waarheen trek Kampkoors ter behoud van sy siel? (Ter behoud van sy kar en sy pensioen is daar die issue van werk en die baie bekende yadayadayada's wat daarmee gepaardgaan, maar dis nie nou ter sprake nie).
Die eerste opsie is Pretoria, want ek hou van die plek. Genoeg watergate om mens gelukkig te hou, baie vrinne ook en die musiek loop dik daar rond. Ek bly stellig eintlik al reeds daar, al slaap ek nie op die dorp nie.
Ek’t al Heidelberg oorweeg, daai Ou Transvaal gevoel wat hom tref, laat in die middag, is iets wat in jou murg gesels as jy hier duskant die Vaal rond jou verstand gekry het.
Ek’t ook heelparty sagte plekke vir Noord-Natal, synde die bloed vandaar kom, en sal skalks myself kan sien vertoef vir 'n paar jaar in Utrecht, PaulPiet, of Vryheid as ek bietjie meer mense soek.
Of dalk haak mens oppad soontoe in Memel vas en kom nie weer weg nie. Miskien aanhou tot by die see en kyk of mens rerig so vinnig moeg gaan word daarvoor as wat almal altyd wil vertel.
Ek’t ook mos laasjaar lekker vastrapplek gekry in die Noorde, Magoebas en daai.
Haenertsburg sal 'n mooi plek wees om te lewe, maar deesdae voel ek ek weer 'n afstand inskop tussen my en daai plekke, asof dit net vakansieplek is.
Ek hou nie daarvan as dit so raak nie, want vakansie is 'n onnatuurlike, onvanpaste manier om jou vryheid te probeer beleef. Ek moet gou teruggaan, weer my hart daar voel klop saam met die ritme van die klowe.
In dieselfde gevoelsrigting is Mpumalanga. Nie Empumalanga of Mapungalanga nie. MMMMpumalanga. For heaven’s sake! Is dit so moeilik om reg te ky? MMMmm!!
Skies. Lyk my ek’s meer gefrustreerd as wat ek dink.
Ewenwel, Graskop, Sabie, Lydenburg, hoekom nie? Selfs Phalaborwa kan nie te vrek verkeerd wees nie.
Maar dan, ek’t ook droomplanne om op Botrvier 'n houthuis staan te maak en daagliks op die hotel se stoep te sit en wag vir die canola om die Overberge te beskilder.
As die oorlede Lotto dalk verbygekom het, sal Greyton die mooiste blyplek maak.
'n Ander plek is Riviersonderend, miskien. (Sommer net "Rivier" onder die Caledonners).
Vandaar kan jy ook oor die pas jaag en oë toeknyp totdat jy deur Franschhoek is om in die Kaap te kom. Ek vind Franschhoek pragtig, maat intens irriterend. Ek gaan nie sê hoekom nie, want ek weet nie.
Durbanville lyk my lekker, voel soos 'n wyse plek met 'n hart, 'n plek wat musiek maak. Snaaks hoe mens 'n dorp se karakter vereenselwig met die mense wat daarvandaan kom. In Durbanville bly Dale, 'n wyse man met 'n hart, en hy bloei musiek.
Stellenbosch het iets aan, vra my wat, maar daar sal ek sekerlik vergeet om te waai.
En ene Gustav sal mens nie toelaat om te vergeet dat 'n wynstreek is wat mens ten beste kan geniet op sy stoep nie.
Vishoek en Kalkbaai, ja, why not? Groenpunt het ek al oor gedink, maar iets kliek nog nie.
Die Moederstad self ken ek skaars. Wat seg die jurie daarvan?
Dan woerts my kop weer op Dullstroom toe, maar die buitewyke. Die hoofstraat raak nou Woolworthserig.
Tonteldoos is 'n ander plek, pas in Weg gepryk. Ek’t daar bloedlyne, moeder se kant het hulle op Tonteldoos gebly, toe dit nog die plaas se naam was.
Maar wat van Carolina, Koppies, ander plekkies met bloed in die grond? Breyten, Chrissiesmeer, Barberton? Roof Bezuidenhout bly dalk binnekort nou en dan in Trompsburg, bure soos hy sal heerlik wees.
'n Goeie vriend gesels noudiedag oor die ewige reisery en storieskrywery. Hy vermoed ons soek na 'n plek waar jy dalk wortels vind, soek na iets wat jou laat voel jy het tuisgekom. Dat dit jou plek is, dat dit is waar jy daai meaning gaan vind.
Ek waag ons gaan maar aanhou reis, so op soek na die vreeslike betekenis. En wat ons sal aanhou vind, altyd, is stories.
Toevallig?
Hallo hallo hallo
Kampkoors het so lanklaas gaan kamp, mens wonder of ons nog weet hoe. Ek voel egter die gebruiklike aangetrokkenheid tot 'n lekker uitdagende winterkampie. Gelukkig spandeer ons die tyd tussenin op belangrike kampbeginsels.
Ter verduideliking: as mens kamp, gedra jy jou stil, dis die regte ding om te doen en as jy 'n aap wil wees en musiek kliphard speel en skree en vloek en grappe vertel tot wanneer in die nag terwyl die musiek uit die kar se kattebak oens-oens, dan is jy nie een van ons nie en sal Kampkoors jou nooit in der ewigheid oornooi vir 'n koppietjie sjerrie nie.
En as jou Jurgens aan die brand slaan gaan ons darem vrek stadig opstaan en bene rek voor ons oorslenter met 'n koppietjie water om te help blus.
Musiek bly egter van kernbelang op die pad na jou kampnaweek toe. As jy nie iets waardig in jou mouter luister tydens die trippie sountoe nie, wel dan kan jy dit maar los, aldus ons.
Met dit ingedagte spandeer Kampkoors ruim tyd oppad agter musiek aan buite kampnaweke.
Kampkoors heul ook gevolglik gereeld met die goeie mense van SAmusic.co.za, Bowline en diesulkes en hulle hou ons op hoogte en maak seker ons kry VIP treatment by al die optredes in ruil vir 'n artikeltjie of twee.
Kampkoors se regte werk is dus 'n vaalgrys massa van onbeduidende verveling in teenstelling met ons kamp en reis en musiekwêreld. Maar ons glo jy kan vergaan in jou eie pot van ellende, of moonlight as iets helemal anders. So kan jy oorleef en 'n genotvolle lewe lei. Maar mens is darem soms vrek moeg by die werk, jong...
Nietemin:
Die afgelope week of so het ons heelparty sulke dinge bygewoon en hier en daar iets gevind en geweeg en swaar genoeg bevind.
'n Nuwe lotjie wat begin kop uitsteek in Pretoria en omgewe is Grensbasis 13. Daars nie 'n CD nie, so dis als puur. Net die musiek en die verhoog. Kyk uit en beleef.
S&A had Vrydag groot sukses met iets genaamd die Johnny Cash Tribute. Die 23ste Mei is daar nog 'n sessie. Paartie was daar lanklaas so 'n paartie. Aan diens op die verhoog: Marcelle van Heerden, Bacchus Nel, Werner van der Hoven, Paul Riekert, Nardus Du Plooy, Esme Evakwaad, Drikus en Gerhard Barnard. Welgedaan aan almal, aan Drikus en Gerhard en Claire en Robin wat die storie aan die gang gekry en uitgevoer het.
Nou wonder Kampkoors watse tribute mens volgende wil hê. Dylan is al gedoen hier rond. Wat dink julle?
Dan was daar die paartie ter ering van Klopjag se nuwe CD, Klopjag 5. Jinne, dis lekker. Hierdie lotjie het 'n heerlike energie en 'n goeie dosis van iets wat soms erg soek is in die SA musiekwêreld: karakter. Jy sal jouself 'n guns doen deur hulle iewers te vang.
By hierdie spesifieke kuier was Jackie en Kabous teenwoordig. Beide ontken heftig enige kennis van Valiant-moleste. Jacky dan meer heftig as Kabous.
Gepraat van: Kabous en Dana van langsaan en Bacchus het die 17de 'n storie-aand by Red Tomato in Brooklyn, Pta. Kampkoors beveel aan en sien jou daar.
Goed, hierdie was dan 'n musiekblog, maar, baie bedrewe, het ek vroeër gestel dat liefde vir goeie musiek en kamp hand aan hand gaan. Oulik, nê?
So was dit toe dat 'n hele klomp blogters saam optrek na Steak & Ale.
Generaal Piet was gaskunstenaar en koel is die windjie en skraal vir jou as jy nie al een van sy donderstorm rockshows bygewoon het nie.
Met lippelees het ons mekaar leer ken, want Piet Bothahammer se amps se volume knoppies gaan, anders as ander "orkeste" nie na 10 toe, maar om en om na inifinity. Heerlik.
Julle is 'n klomp mooi mense, met 'n heerlike tikkie stuitigheid te bespeure om elke draai. Kamp moet ons gaan kamp. Dankie ook vir al die mooi goete wat julle kwytraak. Onverdiend.
Ewenwel. die uwe en Vrind Jan het toe die pad aangedurf na die Wilde Nasionale Krugertuin toe.
Soos dit die Kampkoors Rondgaande Komissie betaam, het dit ons omtrent presies die hele Vrydag geneem om die 500 of so km Satara toe af te lê.
Ons het darem (met moeite) nie al by Bronkhorstspruit afgedraai vir 'n eerste koffie nie, maar het toe net so ver as die volgende Ultra City gevorder. Daai koffietjie was toe so lekker dat ons net buite Belfast weer moes stop vir nog.
Dullstroom was 'n mistige, koue, nat hooglandskildery en ons is ook net op genade deur hom sonder om daar af te pak vir die hele naweek.
Hier teen Lydenburg se kant rafel ons toe sommer helemal uit. Loop rond in die winkels, hou vreeslik lank en lekker middagete, ry deur die dorpie. Ons het mos baie tyd...
Val langsamerhand in die pad, maar maak dit toe ook net sover as Pelgrimsrus. Was jy al in Pelgrimsrus as daar niemand is nie? Wonderlik en gans anders. Die Kampkoors toer het daar rondgeflenter asof ons nie sesuur diep binne in die Kruger moes wees nie.
Toe kyk ons iewers tussen die bo- en onder-dorp op die horlosie en toe is dit net chaos, deur Graskop asof dit nie bestaan nie, nagmerrie verkeer en bokke en kinders en beeste deur Bosbokrant se eindelose plakkerskamp metropolis.
By Klaserie swenk Vrind Jan behendig regs en die trein loop mooi tot by Orpenhek. Ons maak dit in die donkerte by Satara se hek in met mooipraatjies.
Ons het heerlik gekuier en die plek diep ondersoek, selfs te voet.
Ek sal dalk een of ander tyd meer daaroor laat weet, maar ekt toe nou onlangs meer gewonder oor iets anders.
Baie mense blyk jaloers te wees op die manier waarop die Kampkoors Direktoraat gewoonlik reis, sonder tyd of eindbestemming en met die klem op belewing van die oomblik en die sintuie en die mense en die pragtigheid van dit alles.
Ek’t gewonder hoe dit sal lyk as ons die hand sou waag aan begeleide toere. Jubilatums en genoegdoening is in orde, want op Wegsleep se webblad kan jy sien hoe dit sou werk...
Weereens, dankie vir die lekker kuier by S&A. In die Woorde van Genl. Piet:
Kyk nou die langpad
roep my alweer
Laat dit met jou goed gaan
God be with you
Sien jou weer..
Stres.
'n Warm wind blaai deur die blare wat bo oor my sambreel.
Die sondak en al die vensters is oop in my karveranda wat uitkyk oor die slingerloop van die Olifantsrivier. Die ritselherfs in die blare lyk soos wat Vivaldi klink. Dit sus my tot op die toortapyt tusssen wakker en droom.
Met ooglede wat hensop, is ek opties gesproke klaar met die middag. Iewers rondom die wiele skoffel bospatrysies – ek’s al so lank hier en hulle kon my vir ure uitkyk tot hulle tevrede was die kar byt nie.
Nou en dan dra die wind die snork van die olifantbul wat teen die oorkantste wal doenig is met olifantdinge.
Bo-langs is daar familietwis tussen vinkies. Vir perkussie is daar die kliek-tjirr van 'n sprinkaan wat lanseer. Ek luister na wat die wind wil sê. Hy raak soms opgewonde oor iets, gesels 'n oomblik rustiger. Stilte, Dan 'n lang sug. Seker maar die hitte.
Reuk :my ervaring daarvan is primordiaal, as daar so woord mag wees.
Hy voel net soveel ouer as die ander sintuie, meer rou, minder onder die beheer van die intellek as die res, asof die seine nie deur die sapiens deel beweeg nie, maar reg aan die hart en die rugstring en instink rapporteer.
Instink: iets wat vir my voel soos argaiese geheue, kollektiewe fondasiekennis wat in jou korteks laat weet daar't nou-net 'n suurerige reuk hier ingewaai en jou lyf moet regmaak vir optree soos 'n lyf wat moet besluit of hy gaan baklei vir hierdie stukkie grond en of hy moet laat spaander.
Die asemhaling is dadelik vlakker, reg vir die inasem, vir daai naeloop van ouds na die naaste boom toe.
Hande word bietjie klammerig, dis die adrenalien wat die hart bietjie opkikker sien, die bloeddruk opstoot, maak die lyf effe warmer.
Die breinstam reken ook dis die tipe situasie waar ons gaan moet seker maak ons weet hoe lyk die wêreld om ons.
Die gevoelsintuig kry 'n skoot vuurwater en selfs die nekhare rys soos die senuwees begin dink dis tyd vir antennas.
Ore suis nou skielik van die stilte, op soek na iets, dadelik en ongevraagd besig om die gritselpatrysies en olifantgaffels ruimtelik te posisioneer in die gedagtes.
Vivaldi is ook weg, so ook die droom van mense en van vlieg.
Weg is verlange en stories uitdink, weg is daai grappie wat Vrind Jan vertel het anderaand langs die vuur en wat ek amper nou onthou het.
Die reuk in die lug het uitgekom by daai stukkie basiese slimgeit wat weet dat die res van die grote menslike brein dalkies nou moet ophou opereer soos 'n fliekprojektor en moet oorslaan Casio sakrekenaar toe.
Dis als goed en wel dat jy werk aan 'n storie en dink die groen en geel van die blare is baie Errol Boyley vandag, maar dit gaan ons nie nou help nie. Inteendeel, dis gevaarlik om nou te dagdroom.
Die kar se sitplek, flussies nog 'n leuenstoel, voel skielik harder, effe ongemaklik. Tog is dit nie die sitplek nie, dis die sitter se spiere wat bietjie harder word vanwee allerhande boodskappe en hormone wat vertel dat ons moet reg wees spannetjie, hier kom dalk 'n fisiese episode oor ons pad.
Die ou stres nekpyn doen homself ook weer voor, daai ene waar die nek so styf soos 'n gedraaide handoek voel.
Nou, neffens die wilde nek sit 'n slagaarsituasie en al die gesaamtrek beinvloed die bloed se dwalinge deur die brein.
In hierdie geval het dit skynbaar besluit die kreatiewe gedagtetjies, seker meestal regs, is nou 'n risiko en lei dalk hierdie stomme ou se aandag te veel af van daai skerper wordende reuk en wat dit als mag beteken.
Die breindele wat die herinneringe en die projektor en die orkes en die prentjies en praterigheid in het moet skielik doen met minder van die good stuff.
Die analitiese Kampkoorsbrein, daai ene wat inskop as die gaslamp skielik in die tent omval of as mammabeer in die middel van die nag die woorde "ons moet praat" uiter, hy's nou weer vrot van die suurstof wat so mooitjies deur die nekspiere 'n pad links gekies het.
Die brein is vol gedagtes soos "hoe ver is die reuk, watter kant, hoe lyk die ontsnap opsies, kan my selfoon as jagmes diens doen".
Einde laaste kontak Kampkoors se instink Kampkoors se rasionele persoonlikheid en vertel vir hom: "Hoorieso beer, daars Groot Kat in die omtrek en jou vensters is wawyd oop".
Wakkerte tref soos weerlig. Die vensters gaan so vinnig toe dat 'n vlieg halflyf deur die glas gefillet word. Ek tuur die bos vol gate, die kar se spieëltjies kraak soos ek hulle raadpleeg vir teken van maanhaar of spikkelpels.
Eeste blik is wanneer die blink snoet steek-steek twee of drie keer agter die regterste flikkerlig sigbaar is.
Middeljarige knaap, reken ek, gekyk aan die massiewe kop wat hy skuur teen die hoek van my kar. Ek hoor hoe die tande se kante die lig krap, nes 'n huiskat doen met jou vingers. Sy majesteit draal na my deur se kant toe en kom staan dan sy tande en krap aan die kar se truspieëltjjie. Praat van 'n goeie sitplek vir die vertoning.
Iets trek sy aandag en hy tuur die verte in met sy grasveld lyf teen my deur. Die bos maanhare hier regs langs my is vol goggatjies en gras en eksosisteempies.
Dan tuur hy weer vorentoe, verby die groot boom voor ons. Sy mond hang skielik oop en sy asem begin jaag soos hy van de hitte in hom probeer ontslae raak. Sy dyende borskas wieg die kar saggies heen en weer.
Sy stert swiep ritmies teen die kar se bawerk vas. Iets in die bosse pla hom nog steeds en hy ag dit nodig om 'n kreun te gee. Blaupunkt kan maar gaan slaap, sourround sound soos dit maak hulle nie in Duitsland nie.
Hy's daar weg, stadig die bosse in met 'n stert wat esse maak. Die vensters gaan skrefies oop en die reuk van die mannetjie is oorweldigend.
My keel is droog, ek’s warm, my instink vertel weer vir my iets : Black Label. Nog is die liggaam in konflikmodus en my hormonaal opgekikkerde kuitspiere wil eers nie stilstaan op die pedale nie.
Diep asemhaal, dink aan bier en probeer weer. Die langpad terug kamp toe is sommer baie lank. Die euforie van leeudinge maak plek vir 'n tamheid. Ek probeer nog heletyd Vrind Jan se grappie onthou, maar nou's hy's so weg soos Telkom se hulplyn.
Adrenalien is eintlik sleg vir die hart op die langduur: Al die dinge wat in jou lyf losgelaat word as die stres jou vang moet iewers heen, die lyf wil hê dit moet gebruik word.
Dis hoekom die rus na 'n hardloopsessie soveel lekkerder is as na 'n dinkskrum by die werk, al laat altwee jou ewe moeg agter.
Jou bloedsuiker en bloeddruk geniet dit baie meer om fisies aktief te wees as om te wag dat jy met stilsit als probeer terugreguleer na normaal toe.
So, wat jy doen as jy by jou kamp terugkom, is om die afblaasmatras weer te ont-afblaas, 'n lang stappie te gaan vat reg rondom die kamp en dalk 'n swempie deur te werk.
So verslap die spiere, verbrand die opkikkers, vergete is die bedreiging. Jou lyf koel effe af en die herfsluggie se byt maak jou 'n baadjie aantrek.
Jy's lekker lus vir slaap en as jy iewers sitplek kry voel jy of jy nooit weer daar wil opstaan nie. Jou aptyt verbaas jou en jy vat 'n derde of vierde tjoppie.
Die brein se bloedvloei is weer in die guns van jou kreatiewe denke en jy kan laatnag nog sit en kleurvol gesels oor die leeu en dit raampie vir raampie in jou kop oorspeel.
Die kleure, reuke en klanke van daardie oomblik gaan nog net so helder wees as die kleinkinders eendag die storie hoor.
Jy's elke dag in 'n leeusituasie. Elke dag het sy stad, werk, geld en familiestres, maar ons lywe is nog steeds van die opinie dat ons fisies onder bedreiging is.
Jou baas raak nukkerig met jou en die res van die dag voel jy tam, dis adrenalien jy sien.
Die hele dag lank, spuitjies adrenalien, op met die bloeddruk, woel met die suiker. Dan werk dit uit en jy's op 'n adrenaliendowner tot die volgende ou in die verkeer voor jou insny.
En eendag gee die tieker op van al die oorywerigheid. Laat ons nie 'n lysie maak van almal se nek en skouerprobleme nie, maar dis mos maar die lyf wat wil hê jy moet reg wees vir probleme oplos, baklei en klouter, jy's dan nou kwansuis in gevaar.
So nou's jou nek alewig styf en jy kan net nie afskakel nie, soos mense sê. Dink net heeldag aan werk en oplossings en probleme en begrotings en wat gaan van die kinders word en het ons genoeg hondekos en so aan en so voorts.
Jou stywe nek maak dat die brein se Casio-deel al die bloed kry. (Ter syde, weet jy hoe irriterend is iemand wat altyd in probleemoplos modus opereer? Ek gaan nou nie praat van mammabere wat 'n hele week lank kan tent skoonmaak en mor en knor oor dit nie werk nie en dat vuil is en so en so nie help met dit en dat nie, want dan gaan baie mammabere iets te sê hê oor Kampkoors-simptome soos gate om die tent grawe, vuurmaakkoors, onophoudelike tentverstellings ensovoorts, maar julle kry die idee, hoop ek).
Nou moet nie dink dis net die manne met die kragberoepe en die werkende mammas en die entrepreneuers wat hieronder lei nie.
Monitor bietjie Kleinjan se gedrag tydens eksamens. Kyk hoe hop daai kniee heeldag op en af soos myne op die koppelaarpedaal met die leeu van anderdag.
Mamma, sy hande is mos maar 'n klam spul? Sien hoe strek hy heeltyd uit as hy probeer leer? Dis die spiere wat wil styf, en kyk watse trekkings maak sy nek alles. En hy wil net rondhardloop en ander goed doen. Adrenalien. En hy sukkel met die onthou, jong.
En hoekom sou hy nie? Sy fisiologie maak net so amok met sy vermoë om sy geheue herroep soos joune as jy by 'n belangrike vergadering iemand se naam vergeet.
En is die klein swernoot se aandag op sy werk? Shym, kan nie 'n minuut lank konsentreer nie dan trek iets buitekant sy oog. Hoe dan anders, sy brein het sy sintuie op volkrag.
En na die eksamen ken hy mos al die vrae wat hy vergeet het tydens die vraestel se invul. Baie soos toe ek die jakkalsie gesien net so twee kilometer anderkant die leeu eskpade.
Toe's ek sommer weer rustig, en toe's daai grappie van Vrind Jan terug.
Dit was vreeslik snaaks.
Wat ek eintlik wil se is dit: Dis tyd dat jy wegkom...
*
Kampkoors aanvaar geen verantwoordelikheid vir die mediese akuraatheid van bostaande nie.
Kampkoors aanvaar geen verantwoordelikheid vir eksamen uitslae nie. Dalk is Kleinjan net lui of stupit.
Geen diere is seergemaak tydens die ondervinding en skryf hiervan nie. Behalwe 'n skaap. Vir die tjops.