Dana Snyman
Persoonlike Details
Argiewe
Julie 2007  (3) Junie 2007  (1) Mei 2007  (3) April 2007  (1) Maart 2007  (2) Februarie 2007  (4) Januarie 2007  (4) November 2006  (2) Oktober 2006  (2) September 2006  (2) Augustus 2006  (4) Julie 2006  (1) Junie 2006  (5) Mei 2006  (2) April 2006  (2) Maart 2006  (3) Februarie 2006  (4) Januarie 2006  (1)
 
30 Jul 2007 10:12

Hallo almal

Dis Maandagoggend – 30 Julie. Gaan dit goed? Ek hoop julle het ‘n aangename naweek gehad. Myne was alte lekker, hoewel die dekselse WP weer verloor het.

 Ek skryf net om te sê ek is nie meer kwaad nie – nie vir Frikkie met sy Pajero nie. Vir niemand nie.

Elkeen het maar sy eie maniere van dinge doen en, ag, dis mooi en goed so. Die Liewenheer is lief vir ons almal.

My en Bacchus en Kabous se showtjie Vrydagaand in Pretoria het onrusbarend goed verloop. Dit plek was vol mense en dit klink darem of die meeste van hulle dit geniet het.

Saterdagoggend het ek teruggevlieg Kaap toe.

Die Kaap is besig om my nuwe tuiste te word. Ek het nie gedink dit sou sommer gebeur nie, maar dit smaak my dis wat besig is om te gebeur. Vanoggend toe ek wakker word, toe ruik ek die see. En toe ek by die venster uitkyk, toe sien ek berge. Dit was ‘n aangename gevoel.

Ek gaan heeldag sit en torring aan stories.

Hoor net hierdie mooi aanhaling wat ek gisteraand in my notaboek neergeskryf het: “The stories people tell have a way of taking care of them. If stories come to you care for them. And learn to give them away where they are needed. Sometimes a person needs a story more than food to stay alive.” Dit kom uit ‘n essay wat Barry Lopez, ‘n Amerikaanse skrywer, geskryf het.

Ek hoop julle het ‘n lekker dag. Ek gaan hierdie week probeer om gereeld te blog. Ek kom toenemend agter ek moet meer skryf. Dit hou my nie net uit die moeilikheid nie, maar wanneer ek skryf, voel ek ook die meeste soos myself.

 

Ons praat gou weer!

Dana

 

 

 

Kommentaar (21)
Dana op die verhoog
24 Jul 2007 9:44

Môre almal

 

Hier is ek weer. Ek het toe gisteraand ‘n drienk gedrink en die see geruik, en, heng, ek voel goed vanoggend. Die Kaap bederf my. Meer kan ek nie sê nie.

            Ná my ligte tirade van gister wil ek weer kruiperig by julle raak – ook by ouens soos Frikkie. (Was jy al vanoggend in ‘n boekwinkel, meneer?)

            Ek weet net nie mooi hoe om die ding aan te pak nie. Vreemde dinge gebeur met my. Ek het nooit gedink ek sal eendag stories skryf en my naam sal in koerante wees en sulke goed nie. Regtig. Regtig. Nou is ek in so ‘n situasie.

            ‘n Paar maande gelede sou ek ook nooit kon dink ek sal nog in die openbaar optree nie. Nou is ek in so ‘n dekselse situasie ook.

            My en Bacchus Nel en Kabous Verwoed se klein show’tjie, genaamd Langpadstories, is besig om hand-uit te ruk. Ons het nou selfs ‘n agent. Flippit.

            Haar naam is Ann Toerien, sy is ons vriend Gertjie se meisie, en sy is kwaai, en mooi, en onrusbarend goed met haar werk. Binne ‘n week het sy vir ons agt shows gereël. Ons gaan ook Aardklop toe.

            Dis vir my als bietjie skrikwekkend, want ek het nie die vaagste benul of die ding ‘n sukses gaan wees nie. Bacchus en Kabous is meer gewoond as ek aan hierdie klas van show-ding. Ek gaan onkeerbaar aan die bibber en bewe elke keer waneer voor mense iets moet doen.

            Nietemin, hier is ons voorlopige program vir die volgende paar weke. Daar kan dalk nog shows bykom (of wegval as nie genoeg mense opdaag nie).

·        27 Julie, Pierneefteater in Pretoria

·        18 Augustus, Gatta Patat, Kaapstad

·        19 Augustus, Dorpstraat Teater, Stellenbosch

·        22 Augustus, Damas, Worcester

·        23 Augustus, Die Boer, Durbanville

·        24 Augustus, Klein Libertas, Stellenbosch

·        31 Augustus, Big Blue, Melkbos

·        14 September, Jan Harmsgat, Cullinan

 

Ek vertel maar ‘n paar storietjies en Bacchus – hy gaan nog net so bekend soos

Koos du Plessis en Gertjie raak - sing sy mooie tune-tjies en Kabous bewys jy hoef nie ‘n rolnektrui te dra, al eenkeer in jou lewe keuring vir Tuks se kunskurses te gekry het, of iets van metrum of paarrym te weet om poësie te geniet nie.

Ons het daaraan gedink om miskien foto’s op ‘n skerm tydens die show te vertoon, maar het daarteen besluit. Dit sal net inmeng met die stories, het ons besluit. Ons wil dinge eerder so eenvoudig en pretensieloos as moontlik hou. Stories is groter as mense. Dit glo ons, en so leef ons.

Ek is hier in Weg se Kaapstad-kantoor het nadat ek hierdie parragraaf hier bo skryf het, gou ‘n draai gaan loop.

Toe stap ek by Jaco Kirsten, my gewese Weg kollega wat nou by Topmotor is, se kantoor verby. En toe roep Jaco my nader en wys eers vir my die nuwe Pirelli-kalender met foto’s van Sophia Loren, Hillary Swank, en nog ‘n paar skoonhede.

Nou, helaas, word ek effe geteister deur onkuise gedagtes, daarom gaan ek nou eers weer groet, voor ek dalk weer onverantwoordelik met my woorde raak.

Ons praat so gou as moontlik weer.

Kommentaar (4)
Lees, lees, lees!
24 Jul 2007 9:09

Hallo almal

 

Ja, ja, dis maar weer die ou storie: Ek het lank laas geblog en nou is ek die ene berou en verskonings – die Calvinistiese verhaal van my Calvinistiese lewe.

            Ek was toe in Namibië. Ek het soontoe gevlieg, ‘n Citi Gholf gehuur, en ‘n lekker trippie gehad. Van die lughawe af is ek reguit Swakopmund toe.

Of nee, ek het eers by Herr Jurgen se boekwinkel in Windhoek aangegaan. Dit is een van my gunsteling boekwinkels van alle tye.

            Herr Jurgen verkoop hoofsaaklik tweedehandse boeke. (Tweedehandse boekwinkels is die bestes.) En soos gewoonlik het ek hopeloos te veel geld op boeke spandeer.

Ek het onder meer ‘n boek raakgeloop waarna ek al lank soek: Afrikaners in die Vreemde, onder redaksie van prof. PW Grobbelaar. Dis Africana, en gaan oor Afrikaners wat hulle ná die Boere-oorlog in ander lande gaan vestig het: in Kenia, in die ou Tanganjika, die Kongo, en in Argentinië.

In die boek is ook ‘n hoofstuk oor die Dorslandtrekkers, hoewel hulle reeds voor die oorlog uit die ou Transvaal weg is.

            Ek begin al hoe meer dink ‘n mens kan nie werklik betekenisvol reis sonder om iets van die streek of land waardeur jy reis, se geskiedenis te weet nie. Of ek dink dit nie net nie, ek weet dit, demmit!

            Hierdie land dra te swaar aan mense wat deur die landskap jaag, sonder enige begrip vir die mense wat in ‘n bepaalde streek of gebied woon – veral ‘n begrip vir daardie mense se geskiedenis.

Ek het niks teen ‘n 4 X 4 nie; ek het self een, ‘n ouerige Mazda.

En ek begeer ‘n ander een: ‘n ou Hilux, nes Bun se Blou Makou. (Bun beweer hy sou die Makou aan my verkoop het as hy geweet het ek wil hom hê, maar ek dink hy is te lief vir die Makou om hom te verkoop. Hy het onlangs selfs vir hom ‘n nuwe radio laat insit.)

            Dit gaan dus nie oor 4 x 4’s nie, dit gaan oor baie ouens wat 4 x 4’s besit.

Dis asof ‘n 4 x 4 amper mense – veral mans – met ‘n bepaalde persoonlikheid aantrek: ouens wat issues met ego en beheer en allerhande testosteroon-gedrewe dinge het.

            Sulke ouens ry nie met ‘n 4 x 4 deur ‘n landskap nie, hulle is besig met een of ander oorwinningstog waartydens hulle gedurig hul heerskappy oor mens, dier en ding moet bewys.

Doerie berg moet uitgery word, daai sandpad moet oorwin word. En, whê!, my Pajero skop tog meer torque uit as jou Drifter s’n. En, whê, ek was al in die Moremi of die Chobe, al het ek myself gedra asof ek steeds in Centurion is.

Al sulke magspeletjies speel hulle, hierdie ouens. En al waaroor hulle kan gesels by die kampvuur, in die lodge se boma, of in die Dullstroom Inn se ladies bar, ná so ‘n tog is hierdie eindelose geding waarmee hulle betrokke is met die omgewing.

Kom ons noem hom sommer Frikkie. Hy is dikwels ‘n soort wandelende advertensie vir hoë cholesterol en hy ry ‘n Pajero. (Ek het niks teen Pajero’s nie. Frikkie ry toevallig een.)

Met daardie Pajero kan Frikkie berge uitry wat hy self nie kan uitstap nie.

En in daardie Pajero – netjies verpak in ammo-kiste – het hy elke stukkie toerusting wat beskikbaar is vir mens en dier by Cape Union Mart.

Maar Maandagoggend ry hy, Frikkie, uit die stad weg op ‘n ekspedisie, SONDER ‘N ENKELE BOEK IN DIE PAJERO.

Frikkie het dikwels nie eens ‘n padkaart nie, want, oe, hy het mos ‘n GPS – die nuutste Garmin.

Soms sal hy darem ‘n voëlgids aan boord hê – asook waarskynlik die mees ongeleesde boek op aarde: daardie gids wat vir jou verduidelik watter bokspoor en boksmis behoort by watter bok.

            Nietemin, daar ry ou Frikkie die stad uit, met sy een oog knaend op die GPS op sy paneelbord en sy gedagtes soekend na die naaste Wimpy waar hy ‘n kaasburger kan koop.

Die probleem is net: ‘n GPS kan nie liefde en empatie en swaarkry en lekkerkry aandui nie.

Frikkie ry deur die hele dekselse Noord-Kaap en Karoo sonder om te weet van Abraham Essau en Albert Jackson, van Scully en Fred Cornell, van Dorothea Bleek, die karretjiemense, en die swaarkry van die ou Noordwes-trekboere, van prof. PJ van der Merwe se navorsingstoere en van Dirk Ligter se lekkerkry elke keer wanneer hy die polisie in die Tankwa-Karoo ontglip het.

            Frikkie weet ook niks van Kas Maine nie, of oom Donnie Riekert, die beautiful klipoom van Kuruman nie.

Hulle weet ook nie van Sol Plaatjie wat in 1913 met ‘n baaisiekel van plaas na plaas gery het om te kyk wat het die 1910 Native Land Act aan mense gedoen nie...

            Frikkie is nie eens bewus van uncle Lawrence Green, die maer Bloubergse oompie, wat geglo het ‘n man kan nie ordentlik reis sonder ‘n goeie English brekfis elke oggend in die maag nie.

            Maar Frikkie het ‘n kamera – een of ander duur model. Digitaal, natuurlik. (Frikkie het nie juis aktief foto’s geneem toe jy nog moes gewag het vir jou foto’s en self jou lensopening en sluiterspoed moes gestel het nie.)

Maar deesdae neem Frikkie foto’s en e-pos dit aan al wat publikasie is.

Frikkie verbeel hom hy is besig om die kunstenaar in homself te ontdek, en sommer sy sagte, sensitiewe kant ook, sy vroulike kant.

Frikkie raak ook skoon onseker van homself of buierig as sy rooikop-lover of vrou nie sê sy foto’s is mooi nie.

            Om so te reis, is nie reis nie, Frik-man. Dis ry – doelloos rondry, en in die proses word die aarde verniel deur jou bande, ja, maar veral deur jou arogansie en jou onkunde.

            Sjoe! Hoe vererg ek my nou. Jammer. Sorry. Askies, makosi.

            Ek gaan boonop nou soos ‘n onderwyser klink, maar ek wil net sê: Lees, mense. Neem boeke saam op jul reise. En nie noodwendig Wilbur Smith-boeke om langs die swembad te lees nie, hoewel daar plek vir ou Wilbur ook is. ‘n Mens moet ook ontspan op ‘n reis.

            Ek lees tans onder meer Karel Schoeman se Verkenning, en, heng, die ooptes anderkant die Hexrivier-berge sal nooit weer vir my dieselfde wees nie. Schoeman het meer sinvolle woorde in hom as wat die Karoo klippe het.

            Die landskap is nie ‘n vyand wat ons met ‘n 4 x 4 moet oorwin nie, ou Frik-man.

Die landskap is ons vriend, ons bondgenoot, oor eeue heen geskep en gekerf deur Heitse Eibib of God of die Hoër Hand waarin jy glo. (Eish, hoe pretensieus klink ek nou.)

            Ons hoef die aarde nie te oorwin nie. Ons kan die aarde doodeenvoudig geniet. En dit was mooi en dit was goed, en daarna het ons lank by ‘n kampvuur gesit en ou-ou stories vir mekaar vertel of sommer net na die stilte geluister, met die Melkweg wat vet van die sterre bokant ons koppe hang.

            Waar was ek? Ek is nou skoon van my wysie af. O, ná my besoek aan Herr Jurgen se boekwinkel is ek met my gehuurde Gholf Namib toe.

Swakop se wêreld. Op die toneel. Ek het selfs die grondpad van Walvisbaai af al teen die Namib se rugstring af tot op Solitaire suksesvol met die Gholf aangepak, vrolik met Valiant Swart op my i-pod in my ore: “Anyway, Alex Jay, het saam met my op die aerie gery.” (Dis vir my Valiant se mooiste song, daai een.)

Solitaire is heelaas nie meer Solitaire nie – of nie die dag toe ek daar was nie. Dit het meer gelyk of die Frikkie-Pajero-Society ‘n saamtrek daar het. Dit was net hoë karre waar jy kyk. Ek moes doer anderkant die ashoop parkeer.

Moose McGregor, Solitaire se nie-amptelike burgemeester, was skoon skuins en beduiweld, skynbaar oor al die mense wat skielik daar is en aandring op van sy befaamde appelterte.

Die hele tyd wat ek met Moose probeer praat het, het hy uitgevaar teenoor China. Dis glo onder meer China se skuld dat hy nie langlewe-melk vir sy winkel op Solitaire kan kry nie. Later het hy sommer sy goed gevat en gaan slaap.

Ek het ook vir Nicol Stassen van Pretoria op Swakop raakgeloop. Nicol, baas van Protea Boekehuis, is waarskynlik die slimste mens wat ek ken – en my tipe reisiger.

Hy was besig om deur Namibië te reis om navorsing vir ‘n doktorsgraad oor die Dorslandtrekkers te doen. (As jy wil weet wie die Dorslandtrekkers is, Frikkie, lees vir ‘n begin WA de Klerk se boek Die Laer.)

Ek was by die Riemvasmakers ook. En die Topnaars. (Ek gaan nie nou verduidelik wie hulle is nie.)

Van Namibië af is ek via Johannesburg Bloemfontein toe vir die Volksbladfees.

Ek het dit al op hierdie blog gesê: Ek hou baie van Bloem. Ek het onder meer vir oom Barry Eksteen ontmoet. Dit was vir my ‘n voorreg. Hy het die boek Bosluis-Basters van die Boesmanland geskryf. Sy pa was ds. Barry Eksteen, na wie Eksteenfontein in die Richtersveld vernoem is.

Ds. Eksteen is na my mening een van die merkwaardigste Suid-Afrikaners wat nog geleef het. Gaan lees maar die geskiedenis van die Eksteenfontein-mense en vind self uit.

Ek wil nie name dropping doen nie, maar ek het ook saam met Margit – Doww Dolla – gekuier. En Deon Meyer, die skrywer. En Jan van Tonder. En gawe prof. Nico Luwes. En, ag, sommer klomp lekker, leesgierige mense.

Tans is ek in die Kaap. Dis nou twintig voor 6 in die middag, my lift kom my netnou oplaai, en dan gaan ons ‘n drienk drink iewers waar ‘n mens die see kan ruik. Ek kan nie wag nie. Die vet weet, ná hierdie tirade het ek dit nodig.

Liefde en vrede – ook vir jou Frikkie.

Ons praat weer.

Dana

Kommentaar (15)
Dana draai op blog
27 Jun 2007 11:31

Hallo almal

Ja, ja, ek was lank stil. Jammer daaroor. Nee, nee, ek het nie eintlik ‘n geldige verskoning nie – behalwe, miskien, om te sê ek was besig.

Ek was in die Karoo, toe in die Kaap, toe terug Pretoria toe, en nou is ek al weer in die Kaap, sedert ek laas met julle gesels het.

            Tussendeur het ek nog ‘n draai by my pa op Ventersdorp ook gemaak.

            En Saterdag het ek die rugby op Paternoster gekyk – in die Paternoster Hotel.

            Ek vermoed ek is ‘n nomade.

            Toe ek ‘n baba was, dit het my pa my onlangs vertel, kon ek dikwels glo nie saans aan die slaap raak nie.

Dan, om my stil en aan die slaap te kry, het my pa en my ma my glo in hul ou Volla gelaai en om en om die blok met my gery – en nie lank nie, dan was ek glo kalm en rustig en vas aan die slaap.

            Miskien is dit hoekom ek steeds knaend op reis is: Ek probeer weer daardie rustige, geborge gevoel terugkry wat ek destyds daar saam met my pa en ma in die Volla gekry het.

Whatever, ek is nie juis ‘n ou wat daarvan hou om allerhande diep sielkundige dryfvere en motiewe uit myself te probeer delf nie.

            Ek hou van dinge eenvoudig - amper soos ou Whitey von Wieligh oor wie ek eenkeer ‘n storie geskryf het.

Ou Whitey het tydens die Aartappelfees op Bethal ‘n aanslag op die wêreldrekord geloods – in kole slaan.

            Ou Whitey het probeer om ‘n hoop gloeiende kole in ‘n braaidrom meer as 267 keer met die kaal vuiste te moker. En hy het dit reggekry.

            Ná die tyd, terwyl hy sy meduim-gaar vuiste triomfanklik die lug in druk, toe vra ek hom: “Nou hoekom doen jy dit als, Whithey?”

Toe kyk ou Whitey met sulke ietwat dowwe oë na my, en antwoord: “Ek laaik pyn.”

            One must keep things simple, ja.

            Dit was Saterdag lekker om weer in die Paternoster Hotel te kom. Dis een van my gunsteling hotelle op aarde.

Oom Johan Carosini, die eienaar, en oom Bennie en al die ander ou hande was daar vir die rugby.

             Die vorige naweek was daar ‘n moord in die Paternoster Hotel. Regtig. ‘n Ou het sy meisie in Kamer 4 vermoor en die lyk in die hangkas probeer wegsteek.

            Maar Saterdag was als soos gewoonlik vredig en gemoedelik.

Toe twee ouens effe hard met mekaar begin gesels, toe sê oom Johan net: “Kêrels, ek soek ‘n stil naweek. Asseblief.”

            Ek dink die Springbokke het goed gespeel.

            Ek vlieg vanaand terug Johannesburg toe. Daar is mense wat wil hê ek moet die naweek by die Inniebos-fees op Nelspruit wees. Maar ek weet nie of ek sal gaan nie.

Miskien moet ek ‘n slag bietjie tyd op my geliefde Lewis-rusbank – R143 oor 18 maande – deurbring. Want aanstaande week gaan ek Namibië toe.

            Ek gaan nou eers weer groet. Ek hoop dit gaan met julle almal voorspoedig en goed. Ons gesels binnekort weer.

 

Mooi loop!

Dana

 

NS! Dit was baie lekker om Maandagoggend hier in die kantoor te sit en Bun hier te sien instap. Hy is wel nog op krukke, maar hy is op volsterkte. Dis wonderlik!

           

             

           

           

           

 

Kommentaar (20)
Dana is gelukkig en (amper) weer op pad
22 Mei 2007 8:33

 Hallo almal

 

Ek hoop dit gaan nog goed met julle almal. Een ding is seker: Ek gaan vandag begin om al daardie sopresepte in te span wat julle vir my gestuur het, want die winter het Pretoria vanoggend met mening getref.

Baie dankie vir die resepte, dit is so gaaf van julle om dit met my te deel. Sodra ek hier klaar is, ry ek Spar toe om die bestandele te gaan koop.

            Wel, wat kan ek sê? Geluk aan die Bulls-rugbyspan. Julle is waardige Super 14-kampioene. (Maar ek bly maar ‘n Stormer, verloor ofte not.)

            Ek beplan om môre weer ‘n slag die langpad te vat. In die Karoo se rigting. Ek wil is reisstorie vir Weg doen oor… wel, dit kan ek ongelukkig nie verklap nie. Maar ek moet bieg: Ek sien baie uit na die trippie. Dis ‘n storie wat ek lankal wou doen.

            Ek beplan om so tien dae weg te wees.

            Dit het toe baie goed gegaan met my, Bacchus en Kabous se storie-aand by die Red Tamato hier in Pretoria. Ons gaan op 8 Junie weer een hou.

            Ons het allerhande planne met die show.

            In die laaste ruk het daar nie veel in my lewe gebeur waaroor ek hier kan skryf nie, daarom gaan ek nou eers weer goed. Ek kan wel sê: Ek is op die oomblik die gelukkigste wat ek in jarre was. Dis vir my lekker om soggens op te staan en ek het allerhande storieplanne en dinge.

            Ja, ja, ek weet, dit veroorsaak seker dat ek vervelige blogs skryf, maar, asseblief gun my my geluk. Ek gaan ‘n paar mooi dinge vir julle uit die Karoo uit skryf.

 

Lekker week en dankie vir als!

Dana

Kommentaar (33)
11 Mei 2007 8:34

Hallo almal

 

Vrydagoggend, 11 Mei 2007. Ek hoop dit gaan goed met julle almal.

Ek bevind myself vanoggend hier op Ventersdorp. Ek het gou kom kyk hoe gaan dit met my pa.

Die ou is effe verkouerig, maar andersins gaan dit goed: Hy sit tans hier oorkant my by die tafel, besig om Beeld se blokraai in te vul – sonder die hulp van ‘n blokraaiwoordeboek.

          Johannes Bogosi, wat by my pa in die tuin werk, het netnou vir ons koffie gemaak. In blikbekers. Lekker.

          Dis die oggendritueel hier op Venters: Johannes kom elke oggend in en maak die koffie. Dan sit hy en my pa by die kombuistafel en drink koffie – en luister Radio Pretoria.

          Ek het vanoggend saam met hulle koffie gedrink. Dit was vir hulle ‘n groot grap, want tot redelik onlangs het ek nie juis koffie gedrink nie. Maar sedert ek die alkohol gelos het, drink ek koffie, en, wel, dis ‘n baie onderskatte drankie. Ek geniet hom deesdae.

          Ek het gister vier bekers koffie deur die loop van die dag by Rian by die Madeira Kafee gedrink. Dit gaan goed met ou Rian. Hy kla net oor die prys van vis. Vis is deesdae baie skaars en duur, sê hy. Die mense hier op Venters hou van hul vis en chips.

          ‘n Mens sien ‘n ander kant van die lewe as jy daar by Rian in die Madeira sit.

Gisteraand was daar ‘n vrou wat vertel het sy het al vyf miskrame gehad. Sy het dit sommer net vertel om dit uit haar gemoed uit te kry. Sy het nie my naam geken nie, en vir Rian het sy “Jaco” genoem. Maar sy het haar verdrietige storie vir ons vertel.

          Ek ry nou-nou weer terug Pretoria toe, huis toe. Ek moet gou in Johannesburg aangaan, en sien nog op daarteen: Ek hou nie van Johannesburg nie.

Dit kom dalk van kleintyd af: Toe ek so vyf jaar oud was, het mense vir my gesê Johannesburg is hol onder. Ons het toe op Daniëlskuil gewoon – en wanneer ons die jaarlikse Paasskou in Johannesburg besoek het was ek altyd baie bang die aarde onder ons tuimel in, want Johannesburg is mos hol onder, sien.

          Ek sien nog uit na more se rugby. My vriend, Cor Herbst, kom by my kyk en ek gaan vir ons ‘n lekker pot sop maak.

Julle het nie dalk vir my enige lekker sopresepte nie?

Verder gaan als vredig en baie goed.

Ek hoop julle het ‘n puik naweek, vol liefde, veiligheid, en Super 14-oorwinnings.

 

Ons praat weer!

Dana

 

NS! Teen hierdie tyd het julle seker al gehoor van Bun se ongeluk. Ek het my gaai afgeskrik toe ek dit Dinsdagoggend hoor. Hy moet ses weke op sy rug lê – in traksie. Maar so iets sal Bun nie onderkry nie, ek weet. Hy het my gistermiddag gebel en hy het allerhande planne om hom mee besig te hou. Hy sê een van die eerste dinge waaraan hy gedink het toe hy bykom, is die woorde: “Op die toneel.” Bun sal altyd “op die toneel” wees – en ek is baie bly en dankbaar daaroor.

Kommentaar (16)
04 Mei 2007 1:56nm

Hallo almal

 

Vrydagmiddag, 4 Mei 2007. Ek hoop dit gaan met julle almal goed. Met my gaan dit puik. Ek het ‘n rustige, vreedsame week gehad. Ek het ‘n artikel vir Weg geskryf en rondgekarring met allerhande rubrieke wat moet klaar.

            Ek en my vriendin Ilze het gisteraand gaan uiteet by The Red Tomato, ‘n restaurant in Pretoria. Ry met Garsfonteinweg in Brooklyn se rigting, oor die snelweg, so twee straablokke verder, kry jy hom op jou linkerkant. Die kos was wonderlik: hoender met mostertsous vir my, en koedoesteak vir Ilse. Die eienaar se naam is Reinet, en sy is mooi en vriendelik.

            Een van haar kelners se naam is Sanna. Sanna kom van De Aar af. Sanna het onlangs by haar mense op De Aar gaan kuier en toe neem sy ‘n paar foto’s van donkies en ‘n donkiekar met haar selfoon, want sy het gehoor ek hou baie van donkies en donkiekarre. Gisteraand het sy die foto’s vir my gewys. Dit is steeds op haar selfoon.

            Ek wil nie soetspappig klink nie, maar ek word toenemend aangeryp deur klein, betekenisvolle dinge in die lewe: Dit het my hart sag gemaak om hier in die middel van Pretoria te sit en te kyk na foto’s van ‘n donkiekar wat iemand in die Karoo afgeneem het.

             Soos ek laas gesê het: Ek en die sanger Bacchus Nel en die digter Kabous Verwoerd beplan ‘n storie-aand. Dit gaan op 17 Mei gebeur, by Red Tomato. Ons gaan maar net daar sit en stories en gedigte lees en vertel en Bacchus gaan van sy mooi songetjies sing. Die hele ding was Ilse se idee.

            Ek het vanoggend goeie nuus gekry: My huisengel Florence lewe nog. Ek het meer as ‘n week niks van haar gehoor nie. Ek het haar ook aanhoudend probeer bel, maar haar selfoon was af. En dan dink ‘n mens mos maar allerhande swartgallige dinge. Hierdie land doen dit soms aan ‘n mens.

            Nietemin, vanoggend toe bel Florence: “Hallo, Daan. Die tsoti’s het my selle-foun gevat.” Ai tog. Ek net bly hulle haar nie gevat nie.

            Baie dankie aan almal wat op my vorige blog reageer het.

            Ek hoop julle hou lekker naweek.

 

Liefde

Dana  

Kommentaar (14)
25 Apr 2007 8:56

Hallo almal

 

Waar begin ek? Jammer ek was so lank stil, maar ek kan verduidelik: Ek was weg. Waar ek was, kan ek ongelukkig nie sê nie. Ek is net dankvaderbly bly ek is terug.

            Hoe sing Annelie van Rooyen nou weer? “Ek lewe, gemaak om na liefde te strewe…” Dis ek daai.

            Omdat ek julle nie kan vertel waar ek was nie, kan ek julle uiteraard ook nie vertel wat ek gedoen het nie. Ek sal wel nog op ‘n kol daaroor skryf.

            Maar ek gaan nou ophou geheimsinnig wees. Tans is ek in die Kaap. Ek sit hier in Weg se kantoor. Dis net ná halfsewe in die oggend en Bun, Barnie, Peter van Noord en Lize is al op kantoor – en ek het pas ‘n appel geëet.

            Vanaand speel die Proteas in die halfeindstryd van die krieket-wêreldbeker teen die Ausies en natuurlik hoop ek ons looi hulle.

            Soos julle seker kan agterkom, het ek op die oomblik nie veel vir myself te sê nie. Of nie veel wat ek met julle kan deel nie. Jammer.

            Of hier is iets. Ek lees gister die volgende aanhaling van die Amerikaanse skrywer Barry Lopez: “The stories people tell have a way of taking care of them. If stories come to you care for them. And learn to give them away where they are needed. Sometimes a person needs a story more than food to stay alive.”

            Dis mooi, né? Ek het dit in my notaboek neergeskryf.

            Ek vlie waarskynlik môre terug Gauteng toe, Pretoria toe, huis toe. Ek sien nogal daarna uit om weer in my eie bed te slaap. My pa sê gesiggies – pansies – is van die min blomme wat in die winter groei en blom. Ek gaan so gou as moontlik vir my ‘n paar plantjies by die kwekery koop en dit plant, want dit gaan nie vir my ‘n lang winter wees nie. Ek gaan dit nie toelaat nie.

            Die naweek gaan ek miskien Verkykerskop toe: Daar is ‘n dorpsfees en Frank (Opperman) voer Pottie daar op. Hulle het my ook genooi, en dit sal miskien goed wees om ‘n slag tussen baie mense te wees. (Waar ek was, was nie baie mense nie.)

            Ek het ook allerhande ander planne: Ek wil binnekort ‘n strorie oor donkiekarmense doen. Ek, Kabous Verwoerd en Bacchus Nel beplan ook ‘n storieaand by ‘n eetplek in Pretoria.

            Ek gaan ook meer gereeld blog. Regtig.

            Baie dankie vir julle geduld en liefde!

 

Ons praat weer!

Dana

 

           

Kommentaar (14)
16 Mar 2007 8:17

Hallo almal

 

Ek hoop dit gaan goed met julle. Ek hoop julle het ‘n produktiewe en lekker week gehad.

            Ek gaan nie lank skryf nie, want nie veel het met my hierdie week gebeur nie. Ek is terug in Pretoria. Ek was mos laas naweek in die Kaap vir die Woordfees, maar het Maandag teruggekom. Per Boeing.

            Hoe lui die cliché nou weer? Hoe meer dinge verander, hoe meer bly dit dieselfde. Ek het verlede jaar kort na die Argus-fietsren ‘n blog geskryf waarin vertel hoe het ek saam met ‘n klomp fietsers van die Kaap af terugvlieg Johannesburg toe, en hoe baie van hulle hul donkerbrille op hul voorkoppe dra en met hul fietspompe in hul hande loop, asof daar nie plek in ‘n gemiddelde sak of koffer vir ‘n fietspomp is nie.

            Dit was Sondag weer die Argus, en Maandag toe is ek weer saam met ‘n klomp Argus-ryers op die vliegtuig. Presies dieselfde storie: Donkerbrille op die voorkop, pompe in die hand, pretensieuse woorde op die lippe.

            Met uitsondering van sekere Sandtonse en Kaapse restaurante glo ek nie daar is ‘n plek waar mense hul ydelheid so tentoonstel as op lughawens en vliegtuie nie. Let bietjie op hoeveel mense kou kougom op lughawens. Dit voel amper asof jy jou tussen ons kougom kou-kouende Protea-krietetspan bevind. (Kougom-kou is om een of ander Deridiaanse rede ‘n soort uitdrukking van cool-geid vir sekere mense.)

            En dan is daar die ouens – hulle dra dikwels geel dasse – wat in die bussie op pad na die vliegtuig luide laaste bevele vir hul persoonlike assistente oor die selfoon gee, asof die wêreld tot stilstand gaan kom vir die twee uur wat hulle op die vliegtuig gaan wees.

            En dan is daar die mense wat mor en brom oor die gehalte van vliegtuigkos – mense, ek is seker, wat by hul eie huise dikwels nie meer gesond en smaaklik eet as op die vliegtuig nie.

            Dit was seker bietjie bar van hom, maar ek het nogal gehou van wyle minister Hendrik Schoeman, minister van vervoer, se vraag destyds in die parlement: “Wil julle vlieg of wil julle vreet?”

            Nietemin, ek is terug in Pretoria. Ek het die Woordfees, wel, geniet – al hou ek nie juis van plekke waar te veel mense saamdrom nie. Ek en Johan Bakkes en Toast en Jaco Kirsten en nog ander mense het Vrydag lekker saamgekuier en baie gelag.

            Ek het ook vir prof. Hermann Giliomee, bekende geskiedkundige, ontmoet. Hy is bietjie van ‘n held van my. Dit was vir my ‘n groot voorreg.

 Vrydagaand laat toe sit ek en drink ‘n laaste biertjie op my gastehuis se grasperk, alleen, en toe dink ek: Hel, Snyman jy is bevoorreg. Ek het nooit gedink woordfeeste en ontmoetings met sulke mense wat ek baie respekteer, sou ooit met my gebeur nie.

Ek gaan eers weer groet. Hoop julle het ‘n vredige, ontspanne naweek. Ek hoop ons kougom-kouende krieketspan wen vanaand en, wel, die Stormers verloor nie te ver nie.

 

Groete

Dana

 

NS! Ek sien Kabous Verwoerd adverteer my Valiant wederegtelik as te koop hier onder by die kommentare. Jy sukkel met ‘n goeie man, bra. Ek en my vriend Mike Bolhuys, die bouncer-koning van Pretoria, kom “kuier” vir jou as jy daai kar verkoop of beskadig, bra.

 

           

           

Kommentaar (34)
Dana wonder oor skrywers en so...
07 Mar 2007 10:26

Hallo almal

 

Eish, ek was die laaste ruk stil. Jammer. Jammer.

            Ek reis nie op die oomblik nie. Ek is maar net hier in Pretoria rond, besig om ‘n normale lewe te probeer leef, daarom het ek nie juis veel vir myself te sê nie.

 Ek doen maar die gewone goed: slaap, eet te veel Woolies-kos, lees, skryf, skryf, skryf, vloek Moreletapark se neurotiese honde, skryf, skryf, skryf, probeer oefen, luister musiek, kuier saam met my vriendin Ilze in Greenfields, voel trots oor die Stormers wat weer ‘n slag ‘n wedstryd gewen het, ensovoorts, ensovoorts.

            Kortom: Ek het op die oomblik nie veel vir myself te sê nie. Of, altans: Ek het nie veel om in die openbaar te sê nie.

            Ek het voorheen al daaroor gepraat, ek weet, maar ek persoonlik dink die wêreld dra tans te swaar aan verskillende mense se menings en opinies en fillisitasies oor dinge.

Ek is moeg om koerante oop te maak en skielik is daar 110 skrywers wat kla en moan en hulle monde uitspoel oor enigiets van die vrouesoldate op George tot gierige banke, gierige selfoonmaatskappye, en die Bulls se gebrek aan verbeelding op die veld.

            Ek skryf self rubrieke en wil nie ander rubriekskrywers aanvat nie – veral nie in die openbaar nie. Maar een ding het ek al van myself geleer: Die week as ek niks het om in ‘n rubriek te sê nie, dan is my natuurlike reaksie daarop om oor iets te wil kla en moan en bitch. Ek weet nie waarom is ‘n mens so nie - waarom is dit vir ons makliker om te kla en te kritiseer as om opbouend te wees nie?

            Daardeur probeer ek nie sê ons moet ongeregtighede in die gemeenskap sonder kritiek en protes aanvaar nie. Inteendeel. We must rage against the dying of the light, maar ons moet dit eerder in storievorm doen. (Ken julle daardie gedig van Dylan Thomas? Die een van: “Rage, rage…”) Ons moet eerder ons eie en ander se stories vertel, eerder as om mekaar met sterk menings en opinies te slaat.

Maar deesdae is dit ‘n geval van: Jy het ‘n werkende rekenaar, ‘n internetverbinding, ‘n paar sterk menings oor dinge – en dan, die volgende oomblik, kla en moan jy week na week in koerante en op blogs en where-ever, sonder om juis met enige alternatiewe of antwoorde na vore te kom. Die gevaar, dink ek, van dit is: Woorde is nie dade nie. Woorde is slegs wonderlike, magteloose woorde.

            Ons kan kwaai rubrieke en briewe aan koerante skryf, maar op die ou end het dit ‘n beperkte invloed op wat in die praktyk gebeur. Dit glo ek.

Al wat party rubrieke en persbriewe doen, is dit laat ons, die skrywers daarvan, goed en eiegeregtig voel. Intussen hou party politici aan om korrup te wees, is maatskappydirekteure steeds gierig, is motorkapers steeds wreed, en die hongeres in Mosambiek steeds honger.

            Ja, ja, ek weet, woorde het ook toorkrag, woorde kan ook mense se oë vir die wêreld oopmaak en só hul gedrag positief beïnvloed, maar dit sit nie in elkeen se broek om ‘n “Swerfjare van Poppie Nongena” of ‘n “Grapes of Wrath” te skryf nie – boeke wat jou werklik anders na dinge laat kyk.

            Maar ek trap nou in my eie strik: Ek kla oor mense wat knaend kla.

            Gistermiddag lui my selfoon: Dis Jackie, Kabous Verwoerd se meisie. Hulle – wie is hierdie “hulle”? -  - het haar kar gesteel. Dis ‘n ouerige, rooi Uno.

            Wie de hel steel ouerige, rooi Uno’s? wil ek dadelik weet. Maar Jackie is nie in ‘n bui vir grappies nie, sy sit gestrand en kan ek nie help nie, want Kabous se Mazda 323 is tans ook buite aksie weens ‘n rits meganiese kwale.

            Kom haal maar die Valiant, sê ek toe vir Jackie.

            En hier 5 uur se kant toe gaan haal ek vir Kabous en Jackie om die Valiant te kom haal. Dit was snaaks: Kabous en Jackie wat in die Valiant klim asof dit ‘n ou skip is waarmee hulle na hul eie Bermuda gaan vaar.

            Ek moes Kabous ‘n hele paar lesse gee: oor die Valiant se tempramentele flikkerligte, en die remme wat lol; en, onthou nou, Kabousie, sy sal nie start as sy in “drive” is nie. Sy moet in “park” wees.

            Daarom wil ek nou hier in die openbaar verklaar: Ek is geensins aanspreeklik vir enige skade wat met daardie Valiant aangerig word terwyl ek hom vir Kabous en Jackie leen nie. Ek is ernstig. Ek het dit ook aan hulle verduidelik.

Ek is ook nie verantwoordelik vir enige nagevolge van wat tussen daardie twee duifies op die Valiant se agterseat kan gebeur nie. Jy kan nooi verliefdes in ‘n Valiant vertrou nie.

In die loop van die middag het ek verskeie sms’e van Jackie ontvang: “Kabous het veilig voor die Spar gepark, Dana” “Ons sit nou in die Dros, maar drink net Coke en water, Dana.” “Kabous sê jou kar rock, Dana”.

Ek het netnou met Kabous gesels. Hy sê hy het gisteraand die Valiant vir liewe Bacchus Nel, sy sanger-tjommie, gaan wys. (Gaan koop tog vandag ‘n Bacchus-cd. Hy is een van die beste liedjieskrywers in die land. Hy is ‘n Koos Doep met attitude) Bacchus is mos blind en Kabous het hom die Valiant laat bevoel en toe het Bacchus glo gevra: “Kan ek hom maar start, Kabousie?”

Toe het Bacchus agter die stuurwiel gaan sit en die sleutel gedraai, en toe was daardie heilige, amborstige Valiant-klank die lug vol, tot anderkant die maan wat nie meer verduister is nie. En dit was mooi, en dit het na Lead Replacement Fuel geruik.

Ek gaan Vrydag Kaap toe vir die Woordfees op Stellenbosch. Ek het een of ander okkasie daar aan saam met Johann Bakkes en Toast en Jaco Kirsten. Ek is mos nie veel van ‘n prater nie, daarom is ek bly hulle is daar, hulle kan voor vat met die woorde.

Dit klink my Bakkes is lus vir kuier, en, eish, dan kan ‘n aand aand word, en laat nag, en later ounag, en ons sal lag, en nonsies praat, en miskien soos laasjaar in sy bakkie deur die donker ry met brande kerse in ons harte, teen 60 km/pu. Ons sal saam met die cd’s sing, en later dalk weer foto’s van ‘n car guard voor die Springbok Pub oorkant daardie BP-garage naby die universiteit neem omdat ons bang is hy steel dalk goed agter van die bakkie af.

Ek hoop nie ek het te veel gepraat en julle verveel nie.

Ons praat hopelik gou weer.

 

Mooi loop en dankie vir als wat julle vir my doen!

Dana

Kommentaar (25)
Page: 1 2 3 4 5

 

© Kopiereg Weg 2004 - 2005. Sommige artikels beskikbaar gestel deur Veld Toe.
Terme en Voorwaardes   |   Kontak ons   |   Ontmoet die span   |   Teken in op Weg